Een van die eerste definisies van begaafdheid het vereis dat die kinders na hulle intellektuele potensiaal moet presteer. Daarom is die begaafde onderpresteerder nie as ‘n begaafde kind beskou nie, maar eerder as ‘n kind wat verkeerdelik as begaafd geïdentifiseer is.
Later is eers aandag aan die begaafde onderpresteerder gegee omdat hierdie kinders oor die potensiaal beskik, maar om verskeie redes nie na potensiaal presteer nie.
Die begrip onderprestasie verwys na ‘n toestand wat ontstaan wanneer ‘n leerder se skolastiese prestasie ‘n vlak of meer laer is as wat op grond van sy of haar intellektuele potensiaal verwag kan word.
In skole is daar baie begaafde kinders wat nie na hulle volle potensiaal presteer nie. Roos het reeds in 1980 bevind dat 50% van alle begaafde seuns skolasties onderpresteer en selfs neig om te druip.
Rimm (1989) het drie soorte begaafde onderpresteerders onderskei, naamlik:
- nie produseerders wat D’s en F’s behaal
- Voldoeners – wat net genoeg doen om nie in die moeilikheid te wees nie (B’s en C’s)
- Suksesvolle onderpresteerders – wat A’s behaal maar glad nie uitgedaag word nie.
Clark (1988) het twee soorte begaafde onderpresteerders geïdentifiseer, naamlik:
- situasie-gebonde onderpresteerders wat presteer sodra hindernisse verwyder is
- kroniese onderpresteerders – wat voortdurend onderpresteer
Navorsing toon dat begaafde kinders aanvanklik A-simbole by skooltoetrede behaal, maar later uitval en teen die aanvang van die senior fase (graad 7-9) reeds beduidend kan onderpresteer.
Dit is daarom belangrik dat onderwysers persoonlike lêers nagaan om te bepaal wanneer die leerders begin onderpresteer het – en natuurlik waarom.
Bronne: [kyk onder bronnelys vir volledige bronverwysing]
- Bouwer, 1984
- Connoway, 1989.
- Olivier 1981
- Van Staden, C.J. 1993. Die effek van onderprestasie op die selfkonsep van die begaafde seun wat in die junior sekondêre skoolfase onderpresteer. M.Ed-verhandeling, Universiteit van Suid-Afrika: Pretoria