Progressie is ‘n belangrike stylfiguur om van kennis te neem. Progressie gee gehalte aan jou skryfwerk. Omdat ons dit weet, beplan ons elke skryfstuk met progressie as ons middelpunt.
Progressie dui op ontwikkeling. Dink aan die verloop van ‘n dag: progressief vorder die dag van oggendskemer tot die aand met sy maan en helder sterre. So ontwikkel ons van baba tot volwassene. Volwassenes ontwikkel elke dag verder op emosionele, intellektuele en geestelike vlakProgressie dui op lewe en gehalte van lewe.
Progressie moet ook in ons skryfwerk reflekteer. Die karakters in ons stories moet, soos die verhaal vorder, in karakter groei deur beter insig te toon aangaande hulle uitdagings.
Ook moet ons storielyn ontwikkel na ‘n goeie en bevredigende oplosssing van die sentrale uitdaging. Dit alles moet ook ons lesers laat groei tot beter insig in die betrokke uitdaging.
Progressie word ook toegepas in gedigte:
In die gedig Goedkeuring gaan vrae oor progressie behandel word om hierdie stylfiguur prakties te illustreer.
Goedkeuring
Die tema handel oor die mens se begeerte na aanvaarding. Dit is ‘n baie sterk begeerte wat elke mens moet respekteer.
Omdat ons dit besef moet ons mense met deernis aanvaar. Deur net vriendelik te groet, ander in die oë te kyk en vriendelike, belangstellende vrae te vra wys ons die eerste stap van aanvaarding.
Hierdie gedig is ideaal vir tieners wat in ‘n fase is wat hulle graag aanvaar wil word deur dié mense wat hulle bewonder.
Tieners moet leer dat jy nie geld of status moet hê of verkeerde dinge moet doen om aanvaar te word nie.
Goedkeuring
1 Daar is ‘n knellende ketting
2 wat jou vasgevang wurg –
3 ‘n ketting deur jouself
4 om en om jou gedraai:
5 ander se goedkeuring
6 wat jou gelukkig moet hou…
7 Dit is ‘n ketting
8 waarvan die knel roep:
9 buig ‘n skakel oop
10 stap vry weg van die een
11 met sy stywe nek
12 in sy eie ketting
13 wat van jou
14 sy goedkeuring weerhou!
(J.S. Dreyer)
Vrae:
1 Die titel dui aan waaroor die gedig gaan handel. Die leser moet dus vra: “Wat wil die digter oor Goedkeuring sê?” As ons progressie in ag neem, waar sal die boodskap van ‘n gedig dus staan?
2 Verduidelik die progressie vanaf reël 1 tot 2.
3 Is daar progressie vanaf r.2 tot r. 3 en 4? Motiveer jou antwoord.
4 Watter progressie sien jy in r. 5-6 as jy dit met r.1-2 vergelyk?
5 Vergelyk r.1 met r. 7-10. Watter progressie merk jy hier op?
6 Vergelyk die titel en r.11-14. Verduidelik die progressie.
7 Sê wat die boodskap oor die tema is.
Antwoorde:
- Aan die einde van die gedig.
- Reël 1 is bloot ‘n stelling. R.2 gee ‘n beskrywing van wat hierdie ketting doen. Dit brei dus uit op die stelling en verduidelik wat die ketting aan die mens doen.
- Die progressie is in die feit dat dit nie net ‘n knellende ketting is wat jou wurg nie, maar die mens het self die ketting om homself gedraai. Die leser hoor eers van die ellende, maar deur progressie sien hy nou wie dit veroorsaak het!
- In r.5-6 is die ketting nou ‘n metafoor vir die begeerte na goedkeuring van ander mense.
Die progressie is ook in die groei vanaf goedkeuring soek na die oortuiging dat hierdie goedkeuring van ander hom gelukkig sal hou. - Die ketting word nie meer beskryf nie. Die progressie is daarin dat daar nou ‘n beskrywing van die knel van die ketting is. Die knel is die metafoor vir die pyn wat die voortdurende soeke na goedkeuring bring.
Ook is die progressie daarin dat die spreker eers net noem daar is ‘n ketting, maar in r.9-10 is die oproep om te ontsnap, om vry weg te stap van die begeerte na aanvaarding by ‘n persoon wat dit nie wil gee nie. - Die titel is net die woord “Goedkeuring”. Dit het ‘n positiewe betekenis, maar progressief is beweeg na r.11-14 waar beskryf word wie goedkeuring weerhou, dus wie ander verwerp. Let op r.12 “in sy eie ketting” wat op progressie in insig dui. Dié wat verwerp is ook maar onseker en ook maar in hulle eie kettings van goekeuring soek.
- Die boodskap van die gedig: Die begeerte na aanvaarding maak die mens blind om net vrylik aanvaarding uit te deel. So bly elkeen ongelukkig in sy eie ketting na ander se aanvaarding soek.
- Volg van vandag af my skryfwenke by: sandreyerskryf.wordpress.com