Gepubliseer in Joernaal

Oefening in funksies van karakters in letterkunde (gr.10 -11)

Funksies van karakters in letterkunde

Ons moet ‘n ingesteldheid hê van wonder wat is iets se funksie in besonder, maar ook in die groter geheel.

Alles en almal het funksies. Wat hierdie funksies presies is en hoe dit by mekaar aansluit om ‘n suksesvolle groter geheel te vorm, word oral deur die mens bestudeer.

Die mikpunt van sulke studies is nie net om hierdie funksies te verstaan nie, maar om dit tot voordeel van die mens te gebruik.

Dit geld ook vir letterkunde. As die skrywer van ‘n verhaal die funksies van karakters verstaan kan hy sy kennis gebruik om suksesvolle verhale met funksionele karakters te skryf. Vir die leser kan die begrip van funksies van karakters dieper begrip en groter genot van verhale in boeke, in films en op televisie bring.

Wat karakters betref, is dit altyd belangrik om te vra wat ‘n karakter in ‘n verhaal aan die leser moet uitbeeld.

Om hierdie manier van dink aan te leer gaan die volgende vrae op ‘n bekende en  eenvoudige verhaal, die sprokie, toegepas word. Dink aan die oorbekende Rooikappie en die Wolf en beantwoord die volgende vrae:

  1. Behalwe om die verhaal te vertel, watter funksie het die verteller nog?
  2. Die *outeur gebruik ‘n newekarakter in die verhaal. Verduidelik wat Rooikappie se ma aan die leser moet uitbeeld.
  3. Die drie hoofkarakters verteenwoordig drie tipes mense. Verduidelik hierdie stelling.
  4. Hoe beïnvloed Wolf Rooikappie se gehoorsaamheid aan reëls? Is hy getrou aan dit wat hy verteenwoordig? Gee ‘n rede vir jou antwoord.
  5. Wolf  skep twee keer innerlike konflik by Rooikappie. Bespreek die stelling.
  6. Verduidelik die kontras tussen Wolf en Rooikappie se rolle in die uiterlike konflik.
  7. Wat beeld Wolf aan die leser uit in die uiterlike konflik met Rooikappie? Is die uitbeelding effektief? Spreek die uitbeelding tot die leser?
  8. Houtkapper se rol is nie tipies van hoofkarakters nie. Wat beeld hy aan die leser uit?

Moontlike antwoorde

  1. Die verteller gee belangrike inligting oor die verhaal:Hy lig ons in oor waar en wanneer die verhaal afspeel. Die verteller bind al die elemente van die verhaal tot ‘n hegte eenheid. Die leser word gehelp om die verhoudings tussen karakters beter te verstaan.Dit alles help leser om die boodskap van die verhaal beter te verstaan.
  2. Rooikappie se ma verteenwoordig die goeie.  Sy maak eerstens die leser bewus van goeie dade. Tweedens waarsku sy teen gevaar op die pad (wat die lewenspad simboliseer).
  3. Wolf is die bose verleier. Houtkapper verteenwoordig die standvastige mens wat ander help wat in ‘n slegte situasie is en nie toelaat dat die slegte oorwin nie. Rooikappie verteenwoordig die mens wat ten spyte van goeie inligting, opvoeding en waarskuwings nie goeie keuses maak nie.
  4. Wolf is getrou aan die aard van die bose wat hy verteenwoordig. Hy verteenwoordig nie bloot die slegte nie. Hy wil die goeie verlei om slegte keuses te maak. Die slegte keuse word deur hom as baie voordelig beskryf. Die pad na die ouma se huis wat hy voorstel is kort en dus min moeite. Wolf se enigste doel om opsies so rooskleurig in te kleur, is om Rooikappie te vernietig.
  5. Innerlike konflik is die twyfel in ‘n karakter om ‘n keuse te maak. Wolf maak Rooikappie bewus van ‘n makliker opsie as die pad wat sy altyd gebruik. Hy beweer daar is ‘n korter pad. Dit laat haar twyfel in die opsie wat sy ken en sy kies Wolf se voorstel.

Tweedens laat hy haar twyfel oor die identiteit van die een met die oumamondering wat in Ouma se bed lê. Rooikappie vra vrae, kry antwoorde, maar hou aan twyfel oor wie daar lê.

6. Rooikappie, as twyfelaar, is nie opgewasse teen Wolf wat die bose verteenwoordig nie. Die bose oorweldig haar en vernietig haar byna

7. Wolf beeld effektief uit dat die mens nie opgewasse is om in die sfeer van die bose te leef nie. Rooikappie wat ingesluk word, beeld die vernietinging van die mens uit wat die verkeerde keuses maak en te naby aan die bose se skynbare gerief, gemak en valse vreugde wil leef.

8. Ja. Hoewel hy nie in die hele verhaal teenwoordig is nie, speel hy ‘n baie belangrike rol in die uitbeelding van die goeie wat die bose oorwin.

 Hy is veral nie ‘n twyfelaar wat swak keuses maak nie.

As verteenwoordiger van die goeie kies hy eerstens om iemand in nood te help.

Ook oorwin hy die bose as hy Wolf vernietig. Dit maak hom ‘n baie belangrike karakter in die verhaal.

Skrywer:

Ek is 'n afgetrede Afrikaans Huistaal onderwyseres. Ek het 22 jaar vir seniors Afrikaans onderrig - 10 jaar in EA en 12 jaar in Afrikaans Huistaal. Eerstens skryf ek gedigte en kortverhale. Verder het ek begin met die reeks: Skryfwenke vir almal. Laastens skryf ek ook vir "Die begaafde Kind" lesse en oefeninge vir Afrikaans Huistaal vir gr. 10-12 .

2 gedagtes oor “Oefening in funksies van karakters in letterkunde (gr.10 -11)

  1. Baie dankie vir hierdie uiters waardevolle les. Ek sal dit nog ‘n paar keer met konsentrasie kom deurlees. Sommer vir algemene storieskryf, maar ons moet vir volgende jaar vir die VLV ‘n kinderslaaptydstorie skryf. Slegs 70 woorde. Dis min!

    Like

    1. Baie dankie. Jy inspireer my! Sterkte met die storie wat jy gaan skryf. Die beste raad wat ek het is: 1) die karakters moet min wees. 2 of 3. 2) verduidelik dadelik die uitdaging (probleem) 3) Onthou om eerste aan jou oplossing te beplan. Dit werk so: Eric het moet slaap, maar hy is lus vir iets om te eet. Toe hy sy hondjie aan sy skoolsak sien snuffel, gaan kyk hy wat die woef ruik. Sowaar die sjokolade wat Ouma vandag gegee het. 4) Beplan oplossing in stappe.

      Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.