Gepubliseer in Joernaal

Taalleer Graad 9 – 12

Interessante vrae oor lees- en skryftekens

Baie jammer oor die uitleg. Dis regtig WP. Dit is perfek op Microsoft Word. Dit is twee keer deur my geredigeer. Toe ek dit op WP plak is die uitleg en numering ‘n gemors. Hoe dit nou lyk, is hoe ek dit nou werkbaar kon kry.

Leesstuk

 Televisiekyk

1. Ouma: “As jy aanhou om so met Ouma te raas, gaan ek vir my ‘n nuwe seuntjie koop.”

2. Driejarige sê ewe droog: “Mens kry nie seunjiewinkels nie.”

3. Ouma lag en sê: “Sjoe, jy is te slim vir Ouma! Wil jy verder televisie kyk?”

4. Driejarige: “Ja.”

5. Ouma: “Dan moet jy mooi met my praat. Anders skakel ek die televisie af. Verstaan?”

6. Driejarige: “Ja.”

7. Ouma: (gee hom ‘n klapsoen) “Ja, Ouma.”

8. Driejarige: “Ja, Ouma.”

9. Ouma: (glimlag tevrede): “Gelukkig maak televisiekyk mense so inskiklik!”

Vrae:

  1. Verduidelik die verskil in gebruik tussen skryftekens en leestekens.
  2. Hier is drie sprekers aan die woord. Onderstreep die verteller se woorde in hierdie leesstuk.
  3. Verduidelik met twee redes waarom Ouma met ‘n hoofletter gespel word.
  4. Beantwoord die volgende vrae vanuit spreekbeurt 1: 4.1 Verklaar die gebruik van die dubbelpunt. 4.2 Is die aanhalingsteken aan die begin van die sin funksioneel? Motiveer. 4.3 Gee ‘n rede vir die hoofletter in “As…” 4.4 Waarom die komma in hierdie sin?
  5. Beantwoord die volgende vrae vanuit spreekbeurt 2: 5.1 Is die gebruik van die kappie hier sinvol? 5.2 Skryf droog in die vergelykende trap. Gee ‘n rede vir die gebruik van die skryfteken.
  6. Beantwoord die volgende vrae vanuit spreekbeurt 3: 6.1 Verduidelik waarom daar ‘n komma in die sin is. 6.2 Beklemtoon die volgende woorde: slim, ouma, televisie. 6.3 Hoe dui ‘n woordeboek aan watter lettergreep van ‘n woord beklemtoon moet word? 6.4 Watter emosie word deur die uitroepteken uitgehef? 6.5 Daar is twee verskillende leestekens wat moontlik op ‘n tussenwerpsel kan volg. Noem hulle.
  7. Beantwoord die vrae vanuit spreekbeurt 5: 7.1 Plaas die korrekte klemteken op die volgende woorde: die, mooi. 7.2 Verduidelik die gebruik van die aanhalingsteken aan die einde van die vraag.
  8. Voorsien spreekbeurt 6 van ‘n ellips. Verduidelik die funksionaliteit daarvan in die sin.
  9. Spreekbeurt 7: 9.1 Gee ‘n rede vir die gebruik van die komma in spreekbeurt 7. 9.2 Verklaar die hakies in hierdie spreekbeurt.
  10. Spreekbeurt 9: 10.1 Motiveer die gebruik van die skuinsdruk in spreekbeurt 7 en 9. 10.2 Gee twee redes vir die uitroepteken in spreekbeurt 9.

11. Verander die woordsoort  van die deur ‘n aksentteken te gebruik. Watter woordsoort is dit nou? Vorm nou ‘n sin met hierdie woord.

12.1 Gebruik die volgende parentese in ‘n sin: (die een met die bril).

12.2 Gee nog twee maniere om bogenoemde parentese aan te dui.

12.3 Motiveer met twee redes die funksionaliteit van ‘n parentese.

Memorandum

  1. Skryftekens help met die uitspraak van ‘n woord.

Leestekens help die leser om die skryfstuk makliker te lees en makliker te verstaan.

2.

1. Ouma: “As jy aanhou om so met Ouma te raas, gaan ek vir my ‘n nuwe seuntjie koop.”

2. Driejarige sê ewe droog: “Mens kry nie seunjiewinkels nie.”

3. Ouma lag en sê: “Sjoe, jy is te slim vir Ouma! Wil jy verder televisie kyk?”

4. Driejarige: “Ja.”

5. Ouma: “Dan moet jy mooi met my praat. Anders skakel ek die televisie af. Verstaan?”

6. Driejarige: “Ja.”

7. Ouma: (gee hom ‘n klapsoen) “Ja, Ouma.”

8. Driejarige: “Ja, Ouma.”

9. Ouma: (glimlag tevrede): “Gelukkig maak televisiekyk mense so inskiklik!”

3. Ouma is hier ‘n eienaam.   Woorde aan die begin van ‘n sin begin met ‘n hoofletter.

4. 1 Die dubbelpunt dui aan die direkte woorde van ‘n spreker gaan volg.

4.2 Die aanhalingstekens aan die begin dui aan waar presies die spreker se woorde begin.

4.3 Dit dui die begin van die sin in die direkte rede aan.

4.4 Dit skei twee werkwoorde.

5. 1 Dit dui aan dat die klank anders en langer uitgespreek moet word. Vergelyk met het en bed, maar net langer uitgespreek.

5.2 droë. Dit dui aan waar die begin van die nuwe lettergreep tussen  ‘n groep vokale moet wees. So help hierdie skryfteken ook met uitspraak.

6.1 Dit volg na ‘n tussenwerpsel.

6.2 slím, óúma, televísie

6.3 Daar is ‘n teken soos ‘n afkappingsteken na die lettergreep wat beklemtoon moet word.

6.5 Die komma en die uitroepteken.

6.4 Verbasing, amusering

7.1 díe, móói

7.2 Dit dui die einde van die direkte woorde van die spreker aan.

8. :”Ja…” Dit dui aan dat die spreker stilbly, of diep dink. Waarskynlik wil hy nog iets sê, maar omdat die ouma ferm is, bly hy stil. Neem ander antwoorde ook in ag.

9. 1 Na die bywoorde van modaliteit/wyse ja en nee, volg ‘n komma.

9.2 In ‘n dialoog of ‘n dramateks word die handeling van ‘n spreker of karakter in hakies geplaas.

10.1 In ‘n dramateks onderskei dit die handeling van die dialoog.

10.2 Dit dui ‘n uitroep aan. (Dit help so die leser om te verstaan die sin is nie ‘n blote stelling nie.)

11. dié – aanwysende voornaamwoord: Dié wat slim wil wees, moet hard kan werk.

12.1 Die bestuurder (die een met die bril) staan daar oorkant diep in gesprek.

12.2 Die bestuurder, die een met die bril,  staan daar oorkantin diep in gesprek.

 Die bestuurder – die een met die bril – staan daar oorkant diep in gesprek.

12.3 Die parentese verduidelik en hef uit wat die spreker presies bedoel.