Gepubliseer in Joernaal

Nuus vir my volgers

1. Ek het begin met ‘n reeks taalleer oefeninge. Sal dit komende Maandag plaas.

2. Daar is 6 baie handige artikels oor skryfkuns op my ander webtuiste Leeshoekie. Veral nommers 4 – 6 is ietsie anders as die gewone. Kan handig as lesse in skryfkuns gebruik word.

Tik net op google in: sandreyerskryf

Dis lekker om wenke en oefeninge uit deel! 💖

Gepubliseer in Joernaal

Skryfkuns gr.10 -12: Die kortverhaal of verhalende opstel – Beplan die slotparagraaf van die verhaal goed!

Die laaste paragraaf van jou opstel is iets heel anders as die oplossing. Dit is die paragraaf waarin die skrywer probeer toon dat die probleem en die oplossing die karakters laat groei het.

Die belangrike vraag hier is wat wil jy hê moet die leser onthou van hierdie storie. Dus: Waarom het jy die storie geskryf?

Ons skryf stories omdat ons boodskappe het om te bring oor groei. Groei as mense. ‘n Verhaal kan die hoofkarakter en die leser lei om totaal nuut oor ‘n saak te dink. Dit impliseer groei.

In die laaste paragraaf gaan ek dus skryf oor die besef waartoe die karakter kom. Onthou die uitdaging is reeds oorkom. Hoe beskryf ek die wysheid of insig wat die karakter verkry het? Kyk na die volgende slotparagrawe van kortverhale:

1 Die verligting maak plek vir die verlange na sy mense. Daar waar onvoorwaardelike aanvaarding is. Hy pak oorhaastig sy tas. Gryp sy beursie sleutels en foon.

2 Sy sien die donker wolke is weg. ‘n Strepie blou lug het op die horison deurgebreek. Gelukkig hou niks vir altyd aan nie. Sy kan weer gelukkig wees.

3 Toe hy uitstap laat hy oneerlikheid in sy sel agter. Weet hy die tronk het hom tog iets geleer.

4 Die breuk is finaal. Sy stap uit die hofsaal. Met elke tree besef sy net meer dat sy die oorsaak van die egskeiding was. Net sy.

5 Hy voel die dankbaarheid deurbreek. Dit wat die regte ding om sy kind om vergifnis te vra. Sy verhouding met sy kind is herstel. Hy het uiteindelik weer ‘n kans met haar gekry.

6 Die skade wat sy aangerig het, is ‘n skande. Die leuens oor Lana se ontrouheid teenoor Vince is deur haar verkondig. Lana se rooigehuilde oë het haar bygebly. Gelukkig het sy gister haar skuld teenoor Vince erken.

Die karakter het dus insig gekry, is wyser en het gegroei. Dit verleen kwaliteit aan die verhaal, want die skrywer toon insig in die karakter wat hy geskep het.

Hierdie paragraaf is vir baie skrywers moeilik om te beplan en te skryf. Dit verg bietjie dinkwerk en dan skaafwerk. Tog, dalk kom ons vinniger by die antwoord uit as ons gaan dink hoekom ons die storie wou skryf.

Gepubliseer in Joernaal

Die kortverhaal of verhalende opstel Beplan die oplossing van die uitdaging!

Skryfwenke (4)

Elke goeie verhaal het ‘n interessante uitdaging wat opgelos moet word. Hierdie uitdaging word reeds in die eerste paragraaf genoem. Vir ‘n eerste paragraaf beplan ons dus vir die tyd, plek en uitdaging.

Daarna moet die skrywer dadelik beplan vir die oplossing van die uitdaging. Hierdie beplanning gaan verg dat jy mooi moet dink en alle swak oplossings moet uitskakel.

Wat die skrywer ook moet weet is dat daar ten minste twee pogings tot ‘n oplossing moet wees in sy verhaal. Hierdie twee mislukkings moet ook beplan word. Sien jy hoe die verhaal reeds in jou denke vorm aanneem?

Probeer hierdie kennis toepas:

‘n Eerste paragraaf word gegee en jy moet die oplossing onderaan neerskryf.

Sy dogter het vir die derde keer daardie week gekla oor dieselfde dogter wat haar boelie. Op ‘n whatsapp-groep. Hy het geweet net ‘n baie kreatiewe oplossing sal help. Vroeg die aand was hy in sy studeerkamer. Ses planne het in die klein kantoorasblikkie beland. Die sewende een was ‘n wenner…

Paragraaf 6: Oplossing
Skryf hier op ‘n kreatiewe manier, die beste oplossing ooit vir sulke onaanvaarbare gedrag. Gaan jy die boelie laat ly of mooi met haar werk? Of gaan jy haar verras met ‘n oplossing wat haar gaan genees?
Is daar nog moontlikhede? Wat kies jy?

Paragraaf 2-5: twee pogings om die probleem op te los. Gee ook redes waarom dit misluk het.

Jy het nou leiding gekry om vir ses paragrawe se inhoud te beplan. Kan jy sien dat jou storie sin maak? Kan jy sien hoe ongelooflik belangrik ‘n goeie oplossing is?

Gepubliseer in Joernaal

Taalleerhersiening Gr.10 – 12

Beantwoord die volgende vrae aan die hand van die gegewe sin.

Gister het ‘n laserliggie ‘n arme seun se oë verewig en altyd beskadig.

  1. Tot watter woordsoort behoort die eerste woord van die sin?
  2. Maak ‘n betekenisvolle sin met die konnotatiewe betekenis van oë.
  3. Beklemtoon foeitog.
  4. Vorm na die analogie van liggie ‘n nuwe woord met “gewig”
  5. Beklemtoon gister korrek.
  6. Dui die gesegde van die sin aan.
  7. Identifiseer die laterale konsonante in die sin.
  8. Dui die alliterasie in die sin aan.
  9. Identifiseer en benoem die determineerder in die sin.
  10. Dui aan en benoem die hulpwerkwoord.
  11. Vorm deur middel van klinkerwisseling ‘n nuwe woord van het.
  12. Spreek jou uit oor die dubbelkonsonant in laserliggie.
  13. Is laserliggie ‘n simpleks of ‘n kompleks? Motiveer jou antwoord.
  14. Hoe is laserliggie gevorm?
  15. Wat is die funksie van die postmorfeem in arme?
  16. Gebruik die kern van laserliggie as bepaler en vorm ‘n nuwe samestelling.
  17. Maak ‘n betekenisvolle sin met die homoniem van lig.
  18. Gee die funksie van die postmorfeme in laserliggies.
  19. Dui die onderwerp aan en benoem dit volledig.
  20. Is arme ‘n byvoeglike bepaler of ‘n byvoeglike bysin? Gee ‘n rede vir jou antwoord.
  21. Brei die sin uit met ‘n byvoeglike bysin.
  22. Dui die betekenisverskil aan as seun ontrond uitgespreek word.
  23. Skryf die onderwerp neer.
  24. Wat is die betekenisverskil as se met ‘n kappie uitgespreek word?
  25. Is die deelteken in oë funksioneel? Motiveer jou antwoord.
  26. Verdeel oë lettergrepe en dui aan of die letergrepe oop of geslote is.
  27. Gee die denotatiewe betekenis van beskadig.
  28. Beoordeel die spelwyse van verewig.
  29. Gee ‘n voorbeeld van ‘n taalverskynsel in die sin en benoem dit.
  30. Skryf die sin in die direkte rede.
  31. Skryf die sin in die indirekte rede.
  32. Vorm ‘n selfstandige naamwoord van beskadig en ewig.
  33. Skryf die sin in neutrale taal.
  34. Verander die sin na die lydende vorm.
  35. Vorm ‘n spesifieke vraagsin met bogenoemde sin.
  36. Vorm ‘n persoonsnaam van: arm, beseer.
  37. Brei die sin uit met ‘n bywoordelike bepaling van plek.
  38. Watter stylfiguur is hier ter sprake? Verduidelik en gee die funksie daarvan.

Memorandum Taalleerhersiening November 2017

  1. Uitroepsin (emosie word weergegee) en stelsin. (1)
  2. Die gebruik is reg. ‘n Sin begin met ‘n hoofletter en eindig met ‘n punt.
    Die punt moet die gedagte afsluit. (3)
  3. Inversie. Dit het die voorplasing van “gister” tot gevolg om die tyd te beklemtoon. (3)
  4. Tussenwerpsel. (1)
  5. Ek kyk met nuwe oë na die saak. (Ek verstaan dit nou anders/beter). (1)
  6. Fóéitog (1)
  7. Gewiggie (1)
  8. Dit is reg /gepas. Dit hef die emosie van bejammering uit. (2)
  9. Foeitog, gister net ‘n laserliggie die arme seun se oë vir ewig en altyd beskadig! (2)
  10. gíster (1)
  11. Het beskadig (1)
  12. Oei in foeitog (1)
  13. g-allitersasie, l-alliterasie, r-alliterasie (1)
  14. ‘n: onbepaalde determineerder/lidwoord, die bepaalde determineerder/lidwoord (2)
  15. Het: hulpwerkwoord van tyd (1)
  16. Gehad/had (argaïsme) (1)
  17. Die spelling is reg. In ‘n afleiding verdubbel die konsonant na ‘n kort beklemtoonde vokaal. (2)
  18. Kompleks. Die word kan ontleed word. Dit bevat twee stamme en ‘n postmorfeem. (2)
  19. Dit is ‘n samestellende afleiding (1)
  20. Dit vorm ‘n attributiewe adjektief/byvoeglike naamwoord (1)
  21. Ligstraal (1)
  22. Lig asseblief die stoel op sodat ek kan sien of my pen daar is. (1)
  23. -gie: vorm die verkleining, -s vorm die meervoud (2)
  24. Die seun: direkte voorwerp (1)
  25. Byvoeglike bepaling. Dit staan alleen sonder ‘n werkwoord. (2)
  26. Gister het ‘n laserliggie die arme seun, wat daar sit, se oë vir altyd en ewig beskadig. (1)
  27. Seën: beteken gawes wat jy onverdiend kry. Seun: is ‘n manlike kind. (2)
  28. ‘n laserliggie (1)
  29. Sê: dit dui daarop dat iemand praat. (1)
  30. Ja. Dit dui ‘n nuwe lettergreep aan en help so met die uitspraak. (1)
  31. o-e: (onthou: geen deelteken nie!) oop lettergreep, oop lettergreep (2)
  32. Seermaak (1)
  33. Dit is verkeerd gespel, want vir is ‘n losstaande voorsetsel in hierdie geval en nie die premorfeem ver- nie. (2)
  34. Vir ewig en altyd: pleonasme (2)
  35. Sy sê:” Foeitog! Gister het ‘n…”(direk =plus 4 nuwe leestekens) (2)
  36. Sy het bejammerend gesê dat ‘n laserliggie die vorige dag die arme seun se oë vir ewig en altyd beskadig het. (Indirek = minus 4 leestekens!!!) (1)
  37. Beskadiging, ewigheid. (2)
  38. Gister het ‘n laserliggie ‘n seun se oë permanent beskadig. (1)
  39. ‘n Arme seun se oë is gister vir ewig en altyd deur ‘n laserliggie beskadig. (1)
  40. Wanneer/Wat/ Wie se (Onthou die vraagteken) (1)
  41. Armes/armlastige(s), beseerde(s) (2)
  42. Gister by die skool/in die klas/ het ‘n laserliggie die arme seun se oë … (1)
    (60)
Gepubliseer in Joernaal

Progressie verhoog skryfstukke se kwaliteit Lesing en oefening vir Gr.10-12

Progressie is ‘n belangrike stylfiguur om van kennis te neem. Progressie gee gehalte aan jou skryfwerk. Omdat ons dit weet, beplan ons elke skryfstuk met progressie as ons middelpunt.
Progressie dui op ontwikkeling. Dink aan die verloop van ‘n dag: progressief vorder die dag van oggendskemer tot die aand met sy maan en helder sterre. So ontwikkel ons van baba tot volwassene. Volwassenes ontwikkel elke dag verder op emosionele, intellektuele en geestelike vlakProgressie dui op lewe en gehalte van lewe.
Progressie moet ook in ons skryfwerk reflekteer. Die karakters in ons stories moet, soos die verhaal vorder, in karakter groei deur beter insig te toon aangaande hulle uitdagings.
Ook moet ons storielyn ontwikkel na ‘n goeie en bevredigende oplosssing van die sentrale uitdaging. Dit alles moet ook ons lesers laat groei tot beter insig in die betrokke uitdaging.


Progressie word ook toegepas in gedigte:

In die gedig Goedkeuring gaan vrae oor progressie behandel word om hierdie stylfiguur prakties te illustreer.

Goedkeuring
Die tema handel oor die mens se begeerte na aanvaarding. Dit is ‘n baie sterk begeerte wat elke mens moet respekteer.

Omdat ons dit besef moet ons mense met deernis aanvaar. Deur net vriendelik te groet, ander in die oë te kyk en vriendelike, belangstellende vrae te vra wys ons die eerste stap van aanvaarding.

Hierdie gedig is ideaal vir tieners wat in ‘n fase is wat hulle graag aanvaar wil word deur dié mense wat hulle bewonder.

Tieners moet leer dat jy nie geld of status moet hê of verkeerde dinge moet doen om aanvaar te word nie.

Goedkeuring

1 Daar is ‘n knellende ketting
2 wat jou vasgevang wurg –
3 ‘n ketting deur jouself
4 om en om jou gedraai:
5 ander se goedkeuring
6 wat jou gelukkig moet hou…

7 Dit is ‘n ketting
8 waarvan die knel roep:
9 buig ‘n skakel oop
10 stap vry weg van die een
11 met sy stywe nek
12 in sy eie ketting
13 wat van jou
14 sy goedkeuring weerhou!
(J.S. Dreyer)


Vrae:

1 Die titel dui aan waaroor die gedig gaan handel. Die leser moet dus vra: “Wat wil die digter oor Goedkeuring sê?” As ons progressie in ag neem, waar sal die boodskap van ‘n gedig dus staan?
2 Verduidelik die progressie vanaf reël 1 tot 2.
3 Is daar progressie vanaf r.2 tot r. 3 en 4? Motiveer jou antwoord.
4 Watter progressie sien jy in r. 5-6 as jy dit met r.1-2 vergelyk?
5 Vergelyk r.1 met r. 7-10. Watter progressie merk jy hier op?
6 Vergelyk die titel en r.11-14. Verduidelik die progressie.
7 Sê wat die boodskap oor die tema is.

Antwoorde:

  1. Aan die einde van die gedig.
  2. Reël 1 is bloot ‘n stelling. R.2 gee ‘n beskrywing van wat hierdie ketting doen. Dit brei dus uit op die stelling en verduidelik wat die ketting aan die mens doen.
  3. Die progressie is in die feit dat dit nie net ‘n knellende ketting is wat jou wurg nie, maar die mens het self die ketting om homself gedraai. Die leser hoor eers van die ellende, maar deur progressie sien hy nou wie dit veroorsaak het!
  4. In r.5-6 is die ketting nou ‘n metafoor vir die begeerte na goedkeuring van ander mense.
    Die progressie is ook in die groei vanaf goedkeuring soek na die oortuiging dat hierdie goedkeuring van ander hom gelukkig sal hou.
  5. Die ketting word nie meer beskryf nie. Die progressie is daarin dat daar nou ‘n beskrywing van die knel van die ketting is. Die knel is die metafoor vir die pyn wat die voortdurende soeke na goedkeuring bring.
    Ook is die progressie daarin dat die spreker eers net noem daar is ‘n ketting, maar in r.9-10 is die oproep om te ontsnap, om vry weg te stap van die begeerte na aanvaarding by ‘n persoon wat dit nie wil gee nie.
  6. Die titel is net die woord “Goedkeuring”. Dit het ‘n positiewe betekenis, maar progressief is beweeg na r.11-14 waar beskryf word wie goedkeuring weerhou, dus wie ander verwerp. Let op r.12 “in sy eie ketting” wat op progressie in insig dui. Dié wat verwerp is ook maar onseker en ook maar in hulle eie kettings van goekeuring soek.
  7. Die boodskap van die gedig: Die begeerte na aanvaarding maak die mens blind om net vrylik aanvaarding uit te deel. So bly elkeen ongelukkig in sy eie ketting na ander se aanvaarding soek.
  8. Volg van vandag af my skryfwenke by: sandreyerskryf.wordpress.com
Gepubliseer in Joernaal

Oefening in funksies van karakters in letterkunde (gr.10 -11)

Funksies van karakters in letterkunde

Ons moet ‘n ingesteldheid hê van wonder wat is iets se funksie in besonder, maar ook in die groter geheel.

Alles en almal het funksies. Wat hierdie funksies presies is en hoe dit by mekaar aansluit om ‘n suksesvolle groter geheel te vorm, word oral deur die mens bestudeer.

Die mikpunt van sulke studies is nie net om hierdie funksies te verstaan nie, maar om dit tot voordeel van die mens te gebruik.

Dit geld ook vir letterkunde. As die skrywer van ‘n verhaal die funksies van karakters verstaan kan hy sy kennis gebruik om suksesvolle verhale met funksionele karakters te skryf. Vir die leser kan die begrip van funksies van karakters dieper begrip en groter genot van verhale in boeke, in films en op televisie bring.

Wat karakters betref, is dit altyd belangrik om te vra wat ‘n karakter in ‘n verhaal aan die leser moet uitbeeld.

Om hierdie manier van dink aan te leer gaan die volgende vrae op ‘n bekende en  eenvoudige verhaal, die sprokie, toegepas word. Dink aan die oorbekende Rooikappie en die Wolf en beantwoord die volgende vrae:

  1. Behalwe om die verhaal te vertel, watter funksie het die verteller nog?
  2. Die *outeur gebruik ‘n newekarakter in die verhaal. Verduidelik wat Rooikappie se ma aan die leser moet uitbeeld.
  3. Die drie hoofkarakters verteenwoordig drie tipes mense. Verduidelik hierdie stelling.
  4. Hoe beïnvloed Wolf Rooikappie se gehoorsaamheid aan reëls? Is hy getrou aan dit wat hy verteenwoordig? Gee ‘n rede vir jou antwoord.
  5. Wolf  skep twee keer innerlike konflik by Rooikappie. Bespreek die stelling.
  6. Verduidelik die kontras tussen Wolf en Rooikappie se rolle in die uiterlike konflik.
  7. Wat beeld Wolf aan die leser uit in die uiterlike konflik met Rooikappie? Is die uitbeelding effektief? Spreek die uitbeelding tot die leser?
  8. Houtkapper se rol is nie tipies van hoofkarakters nie. Wat beeld hy aan die leser uit?

Moontlike antwoorde

  1. Die verteller gee belangrike inligting oor die verhaal:Hy lig ons in oor waar en wanneer die verhaal afspeel. Die verteller bind al die elemente van die verhaal tot ‘n hegte eenheid. Die leser word gehelp om die verhoudings tussen karakters beter te verstaan.Dit alles help leser om die boodskap van die verhaal beter te verstaan.
  2. Rooikappie se ma verteenwoordig die goeie.  Sy maak eerstens die leser bewus van goeie dade. Tweedens waarsku sy teen gevaar op die pad (wat die lewenspad simboliseer).
  3. Wolf is die bose verleier. Houtkapper verteenwoordig die standvastige mens wat ander help wat in ‘n slegte situasie is en nie toelaat dat die slegte oorwin nie. Rooikappie verteenwoordig die mens wat ten spyte van goeie inligting, opvoeding en waarskuwings nie goeie keuses maak nie.
  4. Wolf is getrou aan die aard van die bose wat hy verteenwoordig. Hy verteenwoordig nie bloot die slegte nie. Hy wil die goeie verlei om slegte keuses te maak. Die slegte keuse word deur hom as baie voordelig beskryf. Die pad na die ouma se huis wat hy voorstel is kort en dus min moeite. Wolf se enigste doel om opsies so rooskleurig in te kleur, is om Rooikappie te vernietig.
  5. Innerlike konflik is die twyfel in ‘n karakter om ‘n keuse te maak. Wolf maak Rooikappie bewus van ‘n makliker opsie as die pad wat sy altyd gebruik. Hy beweer daar is ‘n korter pad. Dit laat haar twyfel in die opsie wat sy ken en sy kies Wolf se voorstel.

Tweedens laat hy haar twyfel oor die identiteit van die een met die oumamondering wat in Ouma se bed lê. Rooikappie vra vrae, kry antwoorde, maar hou aan twyfel oor wie daar lê.

6. Rooikappie, as twyfelaar, is nie opgewasse teen Wolf wat die bose verteenwoordig nie. Die bose oorweldig haar en vernietig haar byna

7. Wolf beeld effektief uit dat die mens nie opgewasse is om in die sfeer van die bose te leef nie. Rooikappie wat ingesluk word, beeld die vernietinging van die mens uit wat die verkeerde keuses maak en te naby aan die bose se skynbare gerief, gemak en valse vreugde wil leef.

8. Ja. Hoewel hy nie in die hele verhaal teenwoordig is nie, speel hy ‘n baie belangrike rol in die uitbeelding van die goeie wat die bose oorwin.

 Hy is veral nie ‘n twyfelaar wat swak keuses maak nie.

As verteenwoordiger van die goeie kies hy eerstens om iemand in nood te help.

Ook oorwin hy die bose as hy Wolf vernietig. Dit maak hom ‘n baie belangrike karakter in die verhaal.

Gepubliseer in Joernaal

Taalleer Woordbou

(Geskik vir gr. 9 – 12)

Raaisel

Hier is ‘n lekker uitdaging. Vorm soveel woorde as wat jy kan met die volgende letters:

b,l,k,k,s,t,e,i,o,u

Jy mag elke letter net een keer in ‘n woord gebruik. Behalwe natuurlik k wat in die lys herhaal word .

Skryf by die woorde wat hulle daartoe leen watter metode van woordvorming jy gebruik het: klinkerwisseling/afleiding/ samestelling/samestellende afleiding

Voorbeeld: kouse – afleiding

(Die letters in my lys kan ook geruil word met ander om ‘n nuwe raaisel te vorm

Gepubliseer in Afrikaans Hulp

Prosa Vertellersperspektief

Geskik vir gr.10 – 12

Onthou dat ons in poësie die term “spreker” gebruik en in prosa “verteller”.

Vertellersperspektief dui bloot op die hoek waaruit die verhaal vertel word. Dit beteken die verteller vertel die verhaal uit sy eie ervaring (soos die ek-verteller of eerste persoonsverteller) of uit die hoek van ‘n videokamera wat oral is en alles sien en hoor (die alomteenwoordige verteller).

Die voordeel van ‘n eerstepersoonsverteller is dat lesers so ‘n verteller as geloofwaardig sien. So ‘n verhaal kan moontlik ‘n ware verhaal wees – iets waarna lesers altyd opsoek is. Lesers kan egter hierdie vertelling as eensydig of subjektief sien. By die ek-verteller word baie keer slegs die verteller se gedagtes, gevoelens en innerlike konflik beskryf. Vir ‘n beginnerskrywer of leerder is hierdie tipe vertellersperspektief ideaal om mee te begin. Dit maak dit makliker om jou as skrywer in die situasie in te leef om sodoende beter te vertel.

Die skrywer kan ook van die alomteenwoordige verteller gebruik maak. Lesers voel hierdie verteller is meer objektief. So ‘n verteller se ander positiewe punt is dat hy vertel wat sy karakters dink en voel. Hy beskryf ook die innerlike konflik in karakters.

Lees die volgende verhaal en beantwoord die vrae:

Groei                                    

  1. Dit was in 2003 of 2004. Wat seker is, is dat ek en hy iets moes leer daardie jaar. Ons was deel van ‘n multikulturele skool. Ek was van Europese afkoms en hy ‘n kind van Afrika.
  2. Een oggend kom ek by die personeelkamer aan. In die groep waar ek sit, is die dames reeds vroegoggend moedeloos. Op – vir Dumisani. Brenda sê sy laat haar nie uit haar pensioen verneuk deur so ‘n ongeooflike, onhebbelike kind nie. Die hoof moet iets doen… Ek sug dankbaar dat die kind my nie vandag tot onwettige handel en wandel sal dryf nie.
  3. Die hoof kom in en open. Daarna volg die negatiewe motivering: die onderwysers is altyd laat, doen nie hulle werk nie, moet altyd gelawe word met koffie en nog koffie, blaas die skool se begroting daarop en dryf sy skool ten gronde. Ons gun hom die mondspoel. Tog voel ek hy weet nie meer hoe dors word ‘n onderwyser  nie. Totaal uit voeling met die beroep.  Nadat hy uitgestap het, gaan blaas ons die begroting op nog koffie.
  4. Eerste periode pas ek ‘n siek juffrou se klas op in die saal. (Ja, hoërskool onderwysers word nogal baie siek. Konk maar in van altyd jouself handhaaf…) Die oppas is nodig. As ‘n tiener die drang kry om aan die verhooggordyne te hang, ’n gat in ‘n gordyn te brand, of net rustig kaal oor die verhoog te stap, moet ‘n onderwyser vir hom sê dit is nou hoe ‘n verkeerde keuse lyk. Hulle begeerte om mekaar te laat lag, oorheers alle opvoeding!
  5. Ek sit dus nou maar en oplet na die jeug en hulle keuses. Afrika-tale dreun rustig in in my ore. Almal gesels net. Niemand het vandag die begeerte om die nar van die dag te wees nie. Maar ek sit ewe oplettend daar. Mens weet nooit. Nie lank nie of die vele vraestelle wat opgestel moet word, begin my teister. Die oplettendheid wyk…
  6. Skielik staan Dumisani voor my. Vol selfvertroue. Breë glimlag. Groot sterk seun. Rugby-speler? Die man het ‘n gesonde selfbeeld! Hy wil weet of ek hom ken. Ek skud my kop, nog nooit van hom gehoor nie. Ek weet nie hoekom ek dit sê nie. Is die woorde my in die mond gelê? Sy oë is vol twyfel. Ek het bietjie van die selfbeeld se eerste lagie afgeskraap. Hy het regtig gedink sy reputasie strek darem tot by my. Ek dink selfs baie diep terug… nee, jammer, dit lui nie ‘n klokkie nie. Maar hy kan gerus langs my sit en my bietjie van homself vertel. (Dit kan dalk heel openbarend wees hoe hy so berug geword het.)
  7. Hy sit. Vertel opgewonde hy kry van môre af by my klas. Afrikaans Eerste Addisionele Taal. Graad 11. Skuif uit Letitia se klas na my toe. Ek wil weet waarom skuif hy na my toe. Nee, hy wil ‘n nuwe blaadjie omslaan. Ek vra nie uit oor dié insig nie. Ook nie of hy dalk wil herbesin nie. Al wat in my kop storm, is dat ek nou met hom gaan sit. Maar ek bly ordentlik. Ek sê solank dat hy welkom in my klas is. Hoop hy vind dit leersaam. Speel hy rugby? Weer is iets my in die mond gelê, want toe kuier ons lekker! Hy is baie aangenaam, gesellig en opgevoed. Ken sy rugby. Ook baie lief daarvoor. Speel provinsiaal.
  8. Die volgende dag meld hy aan. Staan plegtig voor in die klas. Ek heet hom hartlik welkom. Van die dogters frons. Skud hulle koppe. Kan ek nie sien hier kom probleme nie? Hoe kan ek dit toelaat? Sommige seuns staar net voor hulle uit. Sy maats is verheug. Fluit, roep hom om by hulle te kom sit. Uiteindelik kan die pret in hierdie klas begin.
  9. Ek sit ‘n reguit gesig op. Hy of sy maats sal nie oor my vooroordeel kan kla nie. Die man sal ‘n regverdige kans by my kry! Van die dogters kyk my pleitend aan. Stuur hom terug! Ek doen dit nie. Want die besluit lê nie by my nie. (Hulle dink nog ‘n onnie is baas van haar eie klas!) Ek wys niks. Weet net wat almal weet: die vrede het hierdie klassie verlaat…
  10. Toe ‘n maand verby is, het hy my nog geen rede gegee om te gaan jeremia by my vriende in die personeelkamer nie. Ek weet nie of hy van die inspanning van al die pretensie absoluut emosioneel uitgeput is nie, maar hy is doodstil. Niemand wil dit glo nie, maar hy werk, luister na lesse, leer en slaag toetse. Hou die narre om hom redelik onder beheer. As hy werk, werk hulle ook. Party mense is net gebore leiers! Soms as hy te lekker lag vir die narre sal ek op-kyk om te sien wat aangaan. Hy sal in my oë kyk, skaam glimlag en verder werk. Ek verwon-der my, maar hy hoef dit nie te weet nie.
  11. Eendag kry ons vroegoggend die nuus dat een van ons dogters oorlede is in ‘n taxi-ongeluk. Esmerelda. So ‘n mooi naam. So ‘n onnodige dood. Die arme ouers! Vrae skree deur my. Antwoorde klink nie op nie. ‘n Benoudheid oor my onervarendheid van sulke situasies bring net nog vrae.Wat sê ek vir die kinders? Móét ek vir die klasse vol kinders iets sê? Dalk. Ek is tog die volwassene hier. Moet hulle help verstaan. Maar, van die dood weet ek net een ding: ek vrees dit met al my instinkte. Hoe kan so iemand kinders troos?
  12. Waar jy kom, huil kinders. Kinders huil in my arms, huil in mekaar se arms. Ander is net stil. Praat nie, huil nie. Party gaan huis toe. As jy so ‘n dag beleef voel jy net ontsag  – vir die dood, vir kinders se smart en vir die God van lewe en dood. Jou trooswoorde is’n nuttelose gebrabbel. Jy weet om stil te bly is beter, maar jy brabbel, want daar is soveel seer…
  13. Met elke nuwe klas wat inkom herhaal die toneel. Skok en ontnugtering  neem ons dag oor. Wat ons beplan het, word onbenullig in terme van die ewigheid. Toe Dumisani se klas inkom, dink ek skielik dat werk vandag nie eers ‘n opsie is nie. Hoe dink jy aan werk op so ‘n dag? Hoe konsentreer jy hoegenaamd? Die dood van Esmerelda is oral: dit hang in die klas, sluip op die stoepe en roep van die dakke af. Dit galm in jou siel. Dwing ontsag af. Jou nietigheid word vir jou glashelder. En jy bid dat jou geliefdes tog net gespaar bly. Dit word die dood en jy. Jou oervrees daarvoor verteer jou. Gaan die lewe ooit weer soos gister lyk? Sal ons ooit weer anders voel?
  14. Ek sien nie vir Dumisani nie. Niemand weet waar hy is nie. Ek gaan loer by die deur uit. Hy buig effens oor die stoepreling. Kyk na die duiwe op die saal se dak. Hy weet nie dat ek lank vir hom staan en kyk nie. Moedig stap ek nader. Ek gaan staan langs hom. Kyk ook vir die duiwe. Vra of hy ok is. Hy skud sy kop in ‘n ok. Die woorde wat dit moet sê, wil nie hardop lieg nie. Sy seer skok maak ons stil. Ek staan net langs hom. Hy bekommer my. Hy het nie voorgekom as iemand wat so seer kan kry nie. Maar seer praat met elke mens op ‘n individuele manier…
  15. Ek nooi hom om op die trap na die tweede vloer te sit. Weg van sy machomaats. Ons sit daar. Kyk vir die sementtrappe. Kyk nie meer op nie. Staar net in op die skok van haar dood. Die onwerklikheid, die ewige skeiding.
  16. Ek probeer desperaat onthou hoe sy gelyk het. Die skok het haar laat verdamp. In my bly haar beeld ‘n frustrerende vaagheid. Hoe is dit moontlik dat ek nie kan onthou  hoe sy lyk nie?
  17. Die eerste druppel land sag op die sement. Nee! ‘n Nog groter stilte kom lê in my. Hiervoor is ek nie gereed nie. My lewe lank vrees ek ‘n man se trane. Vrees om te kenne te gee dat ek dit wel waarneem. Vrees dat ek daarop moet reageer.
  18. Nog druppels. Nog en nog. Geluidloos. Asof hy nie daar is nie. Ek staar. Gee my oor aan die ontsag vir ‘n mens se diep seer. Dit kalmeer die drang om te troos. Onverklaarbaar wil ek hê hy moet huil. Die skok net bietjie uitspoel hier op die sement. Sy skouers ruk nie. Ook nie sy lyf nie. Dis net ‘n smart wat swaar en stadig druppel vir druppel op die trappe val. En val. Dan kom die stilte waarin woorde onwelkom is.
  19. Skielik staan hy op. Hy wil huis toe gaan. Wil gaan toestemming vra. Hy stap oud na die kantoor. Ek bly sit en oordink sy seer, sy trane en die eer dat ek vertrou is om daarin te deel.
  20. Esmerelda is nie verniet dood nie!

Vrae:

  1. Lees par. 3. Hoe voel die ek-verteller oor die hoof se toespraak? Noem drie sake.
  2. Lees par. 6 en 7. Hoe sou ‘n alomteenwoordige verteller hierdie twee paragrawe hanteer het? Sou die leser die situasie dan meer geniet het? Motiveer jou antwoord.
  3. Is die gebruik van die ek-verteller in par.12 en 13 geslaagd? Motiveer.
  4. Skryf paragraaf 14 in die alomteenwoordige vertellersperspektief.
  5. Vergelyk nou die twee paragrawe aan die hand van die volgende aspekte:
    1. Watter paragraaf beskryf Dumisani se gedagtes en emosies?
    1. Watter een van die paragrawe beeld Dumisani se innerlike konflik die beste uit?
    1. Verduidelik met goeie motivering watter verteller jy, as leser, in die konteks van paragraaf 14 verkies.  

Memorandum

  1. Die ek-verteller voel die hoof is negatief teenoor die onderwysers, uit voeling met die beroep en weet nie meer hoe dors onderwysers word nie. Sy voel opstandig teenoor hom, daarom gaan drink sy nog koffie.
  2. Die alomteenwoordige verteller kon vir ons Dumisani se gedagtes en motivering beskryf het. Dit sou interessant gewees het om te weet hoekom hy met die juffrou gaan praat het.

Die alomteenwoordige verteller kon beskryf het hoe Dumisani voel omdat hierdie juffrou nie eers van hom weet nie. Sy verbasing kon baie komies beskryf gewees het. Of dit kon dalk vir hom baie inspirerend gewees het dat sy reputasie nie so sleg is nie en dat hy dit tog weer kan opbou!

Dit sou ook interessant gewees het om te weet waarom Dumisani heel aangenaam teenoor die juffrou optree en lekker met haar kuier.

3. Ja. Dit is goeie beskrywings van hoe die volwassene wat die kinders moet help dit ervaar. Dit is baie gepas in die konteks van die verhaal.

4. Hy buig effens oor die stoepreling. Kyk na die duiwe op die saal se dak. Sy stap moedig nader. Gaan staan langs hom. Kyk ook vir die duiwe. Vra of hy ok is.

Hy skud sy kop in ‘n ok. Die woorde wat dit moet sê, wil hy nie hardop lieg nie. Hy weet dat hy nooit weer ok sal wees nie. Tog wil hy dit nie met hierdie vrou bespreek nie. Hierdie seer, hierdie verlies is syne. Esmerelda was syne. Sy meisie. Dit is nie ‘n hartseer om te verkondig nie. Nee.

 5.1 Die paragraaf met die alomteenwoordige vertellersperspektief.

 5.2 Die paragraaf met die alomteenwoordige vertellersperspektief.

5.3 Eie antwoord. Moontlik: Die alomteenwoordige verteller gee ‘n meer volledige beeld van die karakter van Dumisani. Die beskrywing van sy hartseer, sy gedagtes en sy innerlike konflik (om die juffrou te vertel of hy ok is of nie) help die leser om die karakter beter te verstaan.

Gepubliseer in Afrikaans Hulp,Aktiwiteite

In die winter roep die lente – digkuns

In die winter roep die lente

1.Die winter klamp sy koue kloue

2. en sleep ons hakskeenspore

3. deur dik lae blare

4. deur nare hees winde

5. waarin onwillige bome

6. hulle koppe opstandig buig.

—-

7. Ons word neergesit

8. voor ‘n kaal boom

9. waaraan fyn, liggroen blare

10. en pienk bloeisels

11. ons moes verbly het.

—-

12. Tog: in seënbeelde van ‘n vorige lente

13. bloei die wete

14. dat dit wat winter was,

15. onherkenbaar sal toegroei

(San Dreyer)

Tema

Die natuur leer ons deur sy seisoene dat die slegte tye verby sal gaan. Die goeie tye, waarin ons die slegte tye sal vergeet, sal weer kom. Ook: die goeie oorwin altyd die slegte.


  Vrae by In die winter roep die lente

  1. A. Haal die woord in die titel, wat op beeldspraak dui, aan. B. Identifiseer die beeldspraak. C.Waarom kan gesê word dat die gebruik daarvan funksioneel is?
  2. Verduidelik die beeldspraak in r.1-3.
  3. Spreek jou uit oor die k-alliterasie in r.1-2.
  4. Stel r.4 in jou eie woorde.
  5. Wat is die ironie tussen r.5 en r.6?
  6. A. Is die leesteken in r.6 funksioneel? B. Motiveer jou antwoord.
  7. A. Dink jy die gebruik van die lydende vorm in r.7 is funksioneel? B. Motiveer jou antwoord.
  8. Beskryf die aansluiting tussen r.3 en r.8.
  9. Waarom is daar ‘n komma in r.9?
  10. Tipeer die stylfiguur wat gebruik word in r.8 –10.
  11.  R.12: A. Wat is die funksie van die voegwoord “tog” B. Stel r.12 in jou eie woorde.
  12. Waarom die dubbelpunt in r.12?
  13. “bloei r. 13:” beteken ook “ om te blom”. Verduidelik die metafoor in jou eie woorde.    
  14. A. Gee die letterlike betekenis van r.14-15. B. gee ook die implisiete  betekenis van r.14 -15. 
  15. Bespreek die woordkeuse van “onherkenbaar” r.15.
  16. A. Is die weglating van die punt in r.15 funksioneel? B. Motiveer jou antwoord.

Antwoorde by In die winter roep die lente

  1. A.  “roep”  B. Personifikasie     C. Dit is funksioneel, want dit hef die feit uit dat die lente of dan die goeie reeds in die winter skuil.
  2. A. Dit is ‘n metafoor.    B. Die metafoor stel die winter gelyk aan ‘n dier wat die hulpelose mens net deur die koue voortsleep.
  3. Dit is funksioneel omdat dit die magteloosheid van die mens teenoor die natuur, hier die winter, klankmatig uithef. (Die leser sien dus dat woord en klank saamwerk om ‘n boodskap oor te dra.)
  4. Die geluid van die wind is ‘n lae klank, wat ‘n onveilige gevoel meebring.
  5. Alhoewel die bome groot en sterk is en lyk of niks hulle kan versteur nie, is die onsigbare wind ironies sterker en waai hulle tot hulle buig onder sy krag.
  6. A. Ja.  B. Dit dui op ‘n afsluiting van ‘n gedagte – in hierdie geval die natuurrbeskrywing van die winter.
  7. A. Ja. B. Dit sluit aan by “sleep” en hef weereens die mens se magteloosheid teenoor die winter uit.
  8. Die aansluiting is in die rede vir die blaarlose boom in r.8. Dit is die winterwind wat die blare van bome afgewaai het dat dit in “dik lae” r.3 onder bome lê.
  9. Dit stop die vloei van die gedig op uit te hef dat die jong blaartjie nog klein en weerloos is.
  10. Ironie. Die spreker se verlange na die lente of dan die goeie en die mooi word hierdeur uitgehef.
  11. A. Dit lui ‘n wending in die gedig in. Die verdieping, die boodskap van die gedig word nou ingelei. B. Maar, in die mooi herinneringe van vorige lentes waarmee ek geseën is…
  12. Dit dui daarop dat ‘n belangrike saak, ‘n belangrike insig gaan volg naamlik dat herinneringe aan vorige lentes by haar bevestig dat die goeie telkens die slegte oorwin.
  13. Die positiewe besef van die spreker word gelykgestel aan ‘n oop, mooi blom.
  14.  A. Plante wat in die winter kaal stamme gehad het, sal in die lente toegroei met blare en blomme.   B. Die goeie sal die slegte in so ‘n mate oorwin dat ons van die slegte sal vergeet.
  15. Dit is ‘n effektiewe woordkeuse wat baie goed uithef dat die slegte ervarings in die lewe eenkant toe geskuif sal word en dat op die goeie gefokus sal word.
  16. Ja. Dit impliseer dat daar ‘n ewige siklus is waarin die goeie die slegte oorwin.