Gepubliseer in Afrikaans Hulp,Aktiwiteite

In die winter roep die lente – digkuns

In die winter roep die lente

1.Die winter klamp sy koue kloue

2. en sleep ons hakskeenspore

3. deur dik lae blare

4. deur nare hees winde

5. waarin onwillige bome

6. hulle koppe opstandig buig.

—-

7. Ons word neergesit

8. voor ‘n kaal boom

9. waaraan fyn, liggroen blare

10. en pienk bloeisels

11. ons moes verbly het.

—-

12. Tog: in seënbeelde van ‘n vorige lente

13. bloei die wete

14. dat dit wat winter was,

15. onherkenbaar sal toegroei

(San Dreyer)

Tema

Die natuur leer ons deur sy seisoene dat die slegte tye verby sal gaan. Die goeie tye, waarin ons die slegte tye sal vergeet, sal weer kom. Ook: die goeie oorwin altyd die slegte.


  Vrae by In die winter roep die lente

  1. A. Haal die woord in die titel, wat op beeldspraak dui, aan. B. Identifiseer die beeldspraak. C.Waarom kan gesê word dat die gebruik daarvan funksioneel is?
  2. Verduidelik die beeldspraak in r.1-3.
  3. Spreek jou uit oor die k-alliterasie in r.1-2.
  4. Stel r.4 in jou eie woorde.
  5. Wat is die ironie tussen r.5 en r.6?
  6. A. Is die leesteken in r.6 funksioneel? B. Motiveer jou antwoord.
  7. A. Dink jy die gebruik van die lydende vorm in r.7 is funksioneel? B. Motiveer jou antwoord.
  8. Beskryf die aansluiting tussen r.3 en r.8.
  9. Waarom is daar ‘n komma in r.9?
  10. Tipeer die stylfiguur wat gebruik word in r.8 –10.
  11.  R.12: A. Wat is die funksie van die voegwoord “tog” B. Stel r.12 in jou eie woorde.
  12. Waarom die dubbelpunt in r.12?
  13. “bloei r. 13:” beteken ook “ om te blom”. Verduidelik die metafoor in jou eie woorde.    
  14. A. Gee die letterlike betekenis van r.14-15. B. gee ook die implisiete  betekenis van r.14 -15. 
  15. Bespreek die woordkeuse van “onherkenbaar” r.15.
  16. A. Is die weglating van die punt in r.15 funksioneel? B. Motiveer jou antwoord.

Antwoorde by In die winter roep die lente

  1. A.  “roep”  B. Personifikasie     C. Dit is funksioneel, want dit hef die feit uit dat die lente of dan die goeie reeds in die winter skuil.
  2. A. Dit is ‘n metafoor.    B. Die metafoor stel die winter gelyk aan ‘n dier wat die hulpelose mens net deur die koue voortsleep.
  3. Dit is funksioneel omdat dit die magteloosheid van die mens teenoor die natuur, hier die winter, klankmatig uithef. (Die leser sien dus dat woord en klank saamwerk om ‘n boodskap oor te dra.)
  4. Die geluid van die wind is ‘n lae klank, wat ‘n onveilige gevoel meebring.
  5. Alhoewel die bome groot en sterk is en lyk of niks hulle kan versteur nie, is die onsigbare wind ironies sterker en waai hulle tot hulle buig onder sy krag.
  6. A. Ja.  B. Dit dui op ‘n afsluiting van ‘n gedagte – in hierdie geval die natuurrbeskrywing van die winter.
  7. A. Ja. B. Dit sluit aan by “sleep” en hef weereens die mens se magteloosheid teenoor die winter uit.
  8. Die aansluiting is in die rede vir die blaarlose boom in r.8. Dit is die winterwind wat die blare van bome afgewaai het dat dit in “dik lae” r.3 onder bome lê.
  9. Dit stop die vloei van die gedig op uit te hef dat die jong blaartjie nog klein en weerloos is.
  10. Ironie. Die spreker se verlange na die lente of dan die goeie en die mooi word hierdeur uitgehef.
  11. A. Dit lui ‘n wending in die gedig in. Die verdieping, die boodskap van die gedig word nou ingelei. B. Maar, in die mooi herinneringe van vorige lentes waarmee ek geseën is…
  12. Dit dui daarop dat ‘n belangrike saak, ‘n belangrike insig gaan volg naamlik dat herinneringe aan vorige lentes by haar bevestig dat die goeie telkens die slegte oorwin.
  13. Die positiewe besef van die spreker word gelykgestel aan ‘n oop, mooi blom.
  14.  A. Plante wat in die winter kaal stamme gehad het, sal in die lente toegroei met blare en blomme.   B. Die goeie sal die slegte in so ‘n mate oorwin dat ons van die slegte sal vergeet.
  15. Dit is ‘n effektiewe woordkeuse wat baie goed uithef dat die slegte ervarings in die lewe eenkant toe geskuif sal word en dat op die goeie gefokus sal word.
  16. Ja. Dit impliseer dat daar ‘n ewige siklus is waarin die goeie die slegte oorwin.