Gepubliseer in Joernaal

Spotprentontleding

Die doel van die spotprent

  • Die spotprenttekenaar wil ‘n boodskap oor ‘n belangrike aktuele saak aan die leser oordra.
  • Enige spotprenttekenaar probeer om lesers dieper te laat dink oor ‘n aktuele saak.
  • Die spotprenttekenaar probeer ook om openbare gesprek oor die aktuele boodskap stimmuleer.

  Uitheffingstegnieke wat in spotprente gebruik word:

  • Wat ons in spotprente moet verstaan, is dat die tekenaar deur die getekende voorwerpe die woorde in die praatborrels wil beklemtoon.
  •  Twee hooftegnieke (metodes) word gebruik om woorde se betekenis vir die leser uit te hef (beklemtoon). Hierdie tegnieke is:
  1. Aansluiting (verband).
  2. Kontras (teenoorgestelde).
  • Maak seker dat jy weet wat elke tegniek beteken:
  • Aansluiting:

Twee of meer dinge in die spotprent bevat dieselfde elemente en dieselfde boodskap.

(Aansluiting is ‘n ander vorm van herhaling. Die boodskap in die woorde word herhaal in elemente van die spotprent.)

Die funksie van aansluiting:

  • As ‘n getekende element in die spotprent aansluit by die woorde in ‘n praatborrel word dit wat gesê word, deur die getekende element uitgehef.
  • As daar enige ooreenkoms tussen enige elemente in die spotprent is, word ‘n saak deur die ooreenkoms uitgehef.
  • Kontras:

Woorde en getekende elemente kontrasteer met mekaar. Die elemente bevat dus teenoorgestelde boodskappe.

 Die funksie van kontras:

  • Die verskil in voorkoms, opinie, of doel word uitgehef.
  • Kontras hef uit dat verskillende opinies oor ‘n saak normaal is .
  • Dit hef uit dat diversiteit normaal is.

Elemente wat òf aansluiting òf kontras uithef:

  1. Die prent as geheel:

1.1 Voorgrond en agtergrond (waar in die prent staan die getekende voorwerp?

1.2 Waarom staan die getekende voorwerp in daardie spesifieke posisie?

1.3 Die antwoord is een van die volgende:

  • Dit sluit aan by…
  • Dit kontrasteer met…
  • Dit hef uit dat…
  • 2. Die karakters in die prent
  • Bepaal die gesigsuitdrukkings.

        Funksie van die spesifieke gesigsuitdrukking?

  • Dit sluit aan by…
  • Dit hef uit dat…
  • Dit kontrasteer met…en hef so uit dat…
  • Bepaal die karakter se lyftaal.

Funksie van hierdie lyftaal?

  • Dit sluit aan by…
  • Dit hef uit dat…
  • Dit kontrasteer met… en hef so uit dat…

Soek na die volgende elemente en bepaal hulle funksie:

3. Die praatborrels

3.1 Die letters van die praatborrel.

  • Is daar hoofletters?
  • Lyk party letters groter as ander?
  • Is daar vetdruk?
  • Kyk of daar skuinsdruk is.

Funksie van enige van hierdie uitheffingstegnieke:

  •  Dit sluit aan by…
  • Dit hef uit dat…

3.2 Die leestekens in die praatborrel.

  • Funksies:
  • Die vraagteken hef die vraag uit.
  • Die vraagteken hef uit dat die karakter iets bevraagteken.
  • Die uitroepteken hef uit dat die spreker hard praat of skree.
  • Die uitroepteken hef een van die volgende uit: dat die spreker geskok, verwonderd, kwaad of bly is.
  • Die leser word dus emotief by die saak betrek en geïnspireer om betrokke te raak by die openbare gesprek aangaande die aktuele saak waarna die tekenaar verwys.
  • Meer as een uitroepteken hef die vorige punte verder uit.
  • Ellips: Funksie: In ‘n spotprent lok ellips die leser uit om oor dit wat die karakter sê, te dink en sy eie opinie te vorm.

3.3 Alliterasie of assonansie

  • Alliterasie: herhaling van konsonante in ‘n reël.
  • Assonansie: Herhaling van vokale in ‘n reël.
  • Funksie:
  • Deur herhaling van spraakklanke word dit wat gesê word in die sin deur klank uitgehef.
  • 3.4 Emotiewe taal
  • Dit is die woorde wat emosie aan die leser oordra.

Let veral op na:

  • tussenwerpsels,
  • die bywoord van graad
  • intensiewe vorm van die byvoeglike naamwoord,

Funksie:

  • Emotiewe taal betrek die leser emosioneel om hom tot nadenke of aksie te laat oorgaan.

       3.5 Letterkundige uitheffingstegnieke

  • Wees op die uitkyk vir beeldspraak en stylfigur wat as uitheffingstegnieke in spotprente, artikels en advertensies gebruik word!

Volgende keer plaas ek ‘n spotprent met vrae en antwoorde.

Gepubliseer in Joernaal

Vrae vir Afdeling A (HT) Vraestel 1 (Sien November 2021 en 2022)

Leerders

Hier is handige vrae om te gebruik. Hierdie tipe vraagstelling behoort ingeoefen te word. Leerders moet gewoond raak aan hierdie tipe bewoording van vrae.

  1. Beoordeel die geloofwaardigheid van… Beoordeel die skrywer se opinie/ Beoordeel die gebruik van die … in … /Beoordeel die woordkeuse van …i n paragraaf …
  2. Skryf twee redes waarom…
  3. Haal ‘n sin uit paragraaf …/ die ma se spraakborrel aan wat verband hou met …
  4. Haal twee woorde uit paragraaf … aan om te bewys dat …
  5. Gee ‘n moontlike rede vir …
  6. Dui die verskil tussen … en … aan.
  7. (Die stelling word gemaak in …) Verduidelik hierdie stelling./Stem jy saam met hierdie stelling? Is … ‘n geregverdige stelling?
  8. In watter opsig verskil … van …?
  9. Vergelyk … met … Dink jy dit is geregverdig om die   afleiding te maak dat …? Motiveer wat jy sê.
  10. Bewys met twee redes dat …
  11. Lewer kommentaar op …
  12. Gee die hoofgedagte van paragraaf/die spotprent/artikel.
  13. Skryf een woord uit … neer wat aansluit by …
  14. Verklaar die teenstrydigheid in die … en …
  15. Dink jy … is korrek? Motiveer jou antwoord.
  16. Dink jy paragraaf… bevestig wat in paragraaf…gesê is? Motiveer.
  17. Verduidelik die verband tussen … en …
  18. Dink jy die skrywer van die teks het sy boodskap geslaagd oorgedra? Motiveer jou antwoord.
  19. Lei die funksie van die … binne konteks van die spotprent/artikel/advertensie af.

Vrae wat met vraende voornaamwoord begin:

  • Waarom is … ironies?
  • Hoe verskil … van …?
  • Wat beteken die uitdrukking: …?
  • Watter implikasie hou dit vir … in as …?
  • Watter afleiding kan die leser uit … maak?
  • Wat bedoel die kenner as hy noem dat …?
  • Watter gevolge kan verwag word as …?
  • Watter visuele inligting skep ‘n woonkameratmosfeer /vakansiemilieu/skoolomgewing?
  • Watter inligting in paragraaf … ondersteun die hoofgedagte in …?