Gepubliseer in Joernaal

(2) Skryfwenke om die gehalte van die verhalende opstel te verbeter

Die verhalende opstel:

Wenke oor die hoofkarakter se uitdaging

***Die verhalende opstel behoort beplan te word met ‘n sentrale uitdaging as die fokus van die verhaal.

Dus:

Bestudeer die onderwerpe wat gegee word goed. Aan watter fisiese uitdaging laat dit jou dink? Voorstelle: Boeliegedrag/diefstal/’n goeie daad wat amper skeefgeloop het/’n fout wat iemand gemaak het/wraakplanne/’n fisiese besering/’n rusie met ‘n goeie vriend/’n slegte verhouding met iemand…

  • Kies nou ‘n fisiese uitdaging vir jou verhaal. Beskryf hoe dit begin of gebeur het.
  • Beskryf die eintlike uitdaging naamlik die emosionele uitdaging wat die hoofkarakter ervaar. Hier is voorstelle: Hy voel magteloos/desperaat/gefrustreerd/moedeloos…
  • Ons wil hê die karakter moet vanaf die onaangename emosies  groei na emosies soos: Hy voel optimisties, want hy glo dat elke uitdaging ‘n oplossing het. Hy voel selfversekerd. Hy voel vol selfvertroue. Hy voel kreatief om probleme om te los. Hy voel geestelik sterk. Hy voel in beheer. (Onthou hierdie is net alles voorstelle!)
  • In die slot word beskryf dat die karakter tot nuwe insig gekom het. Hy besef nou iets wat hy nooit verstaan of geweet het nie.

Voordele van so ‘n fokus:

  1. Die leser kan met uitdagings identifiseer, want almal beleef uitdagings.
  2. Lesers lees graag hoe uitdagings hanteer word.
  3. Lesers wil lees hoe karakters ontwikkel en beter mense word.
  4. Veral wil ‘n leser die oplossing vir die uitdaging ondersoek en dit as goeie raad beskou. Of hy sal besluit dat dit nie vir hom sal werk nie, want sy situasie verskil te veel van die hoofkarakter s’n.
  5. Die uitgangspunt om in jou verhaal op die uitdaging, die oorkoming daarvan en karaktergroei te fokus, gee eenheid aan ‘n verhaal.
  6. Hierdie fokus gee kwaliteit aan jou verhaal, jy val nie rond tussen gebeure en gedagtes nie.

Beplanningvoorstel vir die verhalende opstel               

Vooraf:                                        

A.  Dink eerstens hieraan: Wat is die fisiese uitdaging?

B. Dink dan tweedens hieraan: Wat is die emosionele uitdaging?

C. Dink derdens hieraan:  Wat is (in baie kort), die oplossing vir altwee uitdagings? _____________________________

Nou kan jy verder beplan:

Paragraaf 1: Verduidelik wat het waar gebeur en wanneer.

Paragraaf 2: Verduidelik wat die karakter nou voel. Jy kan meer as een emosie betrek. Is die gevoelens menslik, reg, ontstellend, sleg vir sy geluk, sleg vir sy welstand?

Paragraaf 3: a. Oplossing vir fisiese uitdaging:

b. Oplossing vir emosionele uitdaging.

Paragraaf 4: Karakter beplan oplossing (Wie, wat waar, wanneer?)

Paragraaf 5: Karakter begin met die oplossing.

Paragraaf 6 – 7: Hoe verloop die res van die verhaal?

Paragraaf 8: Hoogtepunt

Paragraaf 9: Nuwe insig en nuwe besef lei tot karaktergroei. Beskryf dit volledig.

Hierdie is ‘n voorstel waarmee jy lekker kan speel. Lekker skryf!

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Skrywer:

Ek het 22 jaar Afrikaans onderrig - 10 jaar in EA en 12 jaar in Afrikaans Huistaal. Ek het in die verlede graag gedigte en kortverhale geskryf. Verder het ek my reeks, Skryfwenke Vir Almal, ook al afgehandel en geplaas op sandreyerskryf. Ek skryf ook vir "Die begaafde Kind" lesse en oefeninge vir Afrikaans Huistaal vir gr. 10 -12. Tans is ek besig om 'n poësiehandboek te skryf.

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.