Inhoud

Klik op onderwerp om daarheen geneem te word.

  1. Begaafdheid
  2. Onderprestasie by begaafde kinders
  3. Lesse uit die praktyk
  4. Aktiwiteite
  5. Boekresensies
  6. Afrikaans – Hulp
  7. Geografie – Hulp (beplan om aan te bied)
  8. My joernaal

Doel van die webblad

Ek het hierdie projek begin nadat ek gesien het hoe min navorsing oor die begaafde kind sedert die oorskakeling vanaf ‘n gedifferensieerde onderwysstelsel na ‘n inklusiewe een plaasgevind het. Die oorskakeling het veroorsaak dat spesialiseringskursusse soos die B.Ed (Begaafdekindonderwys) aan universiteite gestaak is in die guns van kursusse oor inklusiewe onderwys.

Globaal word baie navorsing oor die begaafde kind jaarliks gedoen, maar in Engels en ander tale.Daar is ‘n Suid-Afrikaanse webblad vir Engelstaliges oor die gifted child, maar geen webblad vir Afrikaanse onderwysers, kinders en ouers nie.Hierdie webblad het ten doel om inligting in Afrikaans oor die begaafde kind beskikbaar te stel en om navorsingsbevindinge oor begaafde kinders te deel sodat onderwysers, ouers en kinders bemagtig kan word om die begaafde kind te identifiseer, ondersteun en begelei.Indien hierdie kinders nie ondersteun word nie, kan begaafde leerders, wat veronderstel is om toppresteerders te wees, uitval en selfs druip.

Navorsing toon dat 50% van alle begaafde seuns in 1980 in graad 8 onderpresteer het. Intussen is geen verdere navorsing daaroor gedoen nie. Tog word daar globaal steeds bevind dat begaafde kinders onderpresteer. En selfs druip. Een van die redes daarvoor is dat begaafde kinders nie in voldoende in gewone klaskamers uitgedaag word nie. Tydens gedifferensieerde onderwys kon kinders volgens intellektuele vermoëns in klasse ingedeel word. So kon aandag aan die behoeftes van begaafdes gegee word.

Tans is dit vir onderwysers bykans onmoontlik omdat hulle aandag moet gee aan die leerders wat die potensiaal het om te druip. Die fokus van die inklusiewe onderwysstelsel is nie op die ontwikkeling van individuele leerders nie, maar op die ontwikkeling van leerders wat in ‘n inklusiewe samelewing kan gaan aanpas.

Ek, en ander belangstellendes in die onderwys van die begaafde kind, gaan ‘n punt daarvan maak om ten minste een keer per week inligting oor die begaafde kind en sy of haar problematiek en vreugdes deel. Kliek op die volg knoppie op die blad (op rekenaars aan die regterkant van die skerm en op klein skerms aan die onderkant van die bladsy) om ‘n e-pos in jou e-posbus te kry sodra nuwe inligting gedeel word.As enige persoon met kennis oor die begaafde kind belangstel om deel van hierdie projek te word, laat asseblief ‘n boodskap hier onder, dan laat weet ek hoe ek gekontak kan word.

Tans skryf vier outeurs aan inhoud, naamlik ek (Dr. Christa van Staden), Etrecia van der Merwe, San Dreyer en Nikita (ook ‘n Christa).

Kontak ons gerus, ons gesels graag saam.


Vorige artikels